.: Lees meer...

.: Godsdiensverraad (7): Die Doop





GODSDIENSVERRAAD TEEN GOD SE VOLK (7)

AAN ALLE KINDERS VAN ONS HEMELSE VADER WAT DIE WAARHEID WIL ONTDEK:

UIT DIE PEN VAN BEN MAREE

GODSDIENSVERRAAD (Die Doop)

Vanuit die boek “Die Doop van God of van Calvyn” deur ds. Ben Maree: soos verwerk deur Len Smoog.

In hierdie gedeelte word eeu-oue waarhede wat verswyg word of verdraai of vervals is, blootgelê. Asook die leuens wat van preekstoele af verkondig word.  

 

INLEIDING

Geagte Leser

 

Hierdie reeks boekies is die resultaat van 17 jaar se navorsing. Dit was beplan om as ‘n enkele boek uitgegee te word. Die tyd is egter so kort voor die totale ineenstorting van Suid-Afrika dat elke stuk wat klaar geskryf is, gepubliseer sal word.

 

Gedurende Julie1976 (my laaste jaar op Stellenbosch Kweekskool) het ek op Hartbeespoortdam in ds. Awie Viljoen se gemeente afgelos. Gedurende dié tyd het die Soweto-opstande plaasgevind, waartydens ek toe uitsprake teen die Illuminati gemaak het. Dit is op ‘n verdraaide wyse in Beeld weergee.

 

Terug in Stellenbosch het die NG Kweekskool van Pretoria my oor die uitsprake aangekla. Sodoende moes ek voor proff. P A Verhoef, Willie Jonker en Dirk Odendaal verskyn. Hulle het my gevra of ek kon bewys dat die Illuminati bestaan. Prof Dirk Odendaal het erken dat hy ook van die boeke wat ek aangehaal het, gelees het. Sodoende het hy seker vir my in die bres getree. Ek glo ook dat Prof F J M Potgieter vir my in die bres getree het, want op daardie tydstip het ek onder sy leiding navorsing oor die Illuminati gedoen. Nog ‘n vraag wat aan my gestel is, was waar ek die inligting vandaan gekry het. Die antwoord was dat mnr. Eddie van Zyl van Aksie Morele Standaarde vir my ‘n magdom “onverkrygbare” boeke as geskenk gegee het. My dank aan hierdie twee here – die kennis het my lewe verander. Gedurende September 1976 het die gewese hoëpriester van Satanisme, Phil Botha, vir drie weke by ons kom kuier. Hierdie kennis, tesame met dié van die Illuminati, het my en Elma (my vrou) se oë oopgemaak.

 

Phil Botha was in die hel en ook in die hemel waar hy persoonlik met Jahshua gepraat het. Hy het verstommende bewyse gehad om bogenoemde bewerings te staaf. Jahshua het vir hom gesê dat sy ergste vervolging nie van die sataniste sal kom nie, maar van die NG Kerk. Dit was ook so. Wat Meer is, toe ek teen die kommunisme en satanisme opstaan, het my grootste vervolging ook van die NG Kerk gekom. Die vraag is: Hoekom? Miskien moet ons die NG Kerk ‘n paar vrae vra:

 

•  Wie beheer u Sinodale besluite – die Broederbond of die Heilige Gees?

 

•  Is die Broederbond dalk geïnfiltreer deur die Illuminati?

 

•  Is die Vrymesselaars dalk geïnfiltreer deur die Illuminati?

 

•  Hoekom laat u die aartsvyand van die Boervolk sowel as van ons God, die kommunis Joe Slovo, op u kansel toe?

 

•  Die een oomblik was “apartheid” Bybels en nou is dit duiwels. Wanneer het u gelieg? (NB: Heilig beteken Om apart of eenkant Te wees.)

 

•  Is dit waar dat Prof Johan Heyns op TV gesê het dat hy en Biskop Tutu bloedbroers is? Terloops, Tutu is nie my “naaste” nie, hy is my “vêrste”; want hy is in alles presies die teenoorgestelde van wat ek is.

 

•  Is dit waar dat die NG Kerk ‘n hofsaak teen dr. De vos gemaak het in 1948? Hy het gesê dat die NG Kerk ‘n hoerkerk is na aanleiding van Openbaring 17 en 18. Op 19 Oktober 1948 is die uitspraak dat dr. De Vos dit maar vir die NG Kerk kan sê en hy kan dit in die oggend, in die middag en in die aand vir hulle sê. Die vraag is, was die regspleging in 1948 so vals of is die NG Kerk so vals?

Die vraelys kan geweldig uitgebrei word. Dit het nodig geword dat ons as Boervolk, van wie se geld die kerk leef, bestaan en geblom het, ‘n paar WAAR antwoorde kry. Indien nie, vra ek dat die Boervolk hulle geld van die kerke onttrek.

 

Geagte Leser, wat u moet begryp is dat die eerlikheid, egtheid en kwaliteit van ‘n land se politieke leiers direk in verhouding staan met die volk se geestelike kwaliteite Die volk se geestelike kwaliteite staan weer direk in verhouding met hulle geestelike leiers se geestelike kwaliteite. As u dus ontevrede sou wees oor die politieke situasie in ons land, sou dit erg onregverdig wees om die politieke leiers te blameer. Dit mag vir u vreemd klink, maar dit is so dat die Hemelse Vader ‘n volk straf deur hulle politieke leiers , maar as gevolg van die misleiding van hulle geestelike leiers . Toets asseblief dié geskrif aan die Woord van God en aan u logika. As dit vir u WAAR is, wees dan asseblief saam met my verantwoordelik vir die uitdra van hierdie waarheid.

 

BAIE BELANGRIK

JAHWEH word deur die taalkundiges aanvaar as die eienaam van ons Hemelse Vader en so ook JAHSHUA in die plek van Jesus. Omdat ‘n eienaam nie vertaal kan word nie, verkies die skrywer om die oorspronklike name te gebruik. Waar die Bybel aangehaal word, sal dit egter gedoen word soos dit daar geskryf staan.

DOOP

Dit bly vreemd en onlogies dat daar net een Bybel is en tog sulke vêr uiteenlopende verklarings vir die Doop. Die vraag vir die werklike soeker na die WAARHEID, is- watter een is korrek – die Doop van die gelowige of die besprenkeling van kindertjies?

 

Die gereformeerde denke leer ons: “Die Doop het in die plek van die besnydenis gekom.” Hulle kan dit egter nêrens uit die Skrif bewys nie.

Die besnydenis was egter ‘n teken van die Verbond en daarom sal daar kortliks na die karakter van die Verbond gekyk word, dit wil sê die Ou sowel as die Nuwe Verbond.

 

‘n Verbond is in wese ‘n kontrak of testament. Daarom word van ‘n Ou Testament en ‘n Nuwe Testament gepraat. Wat die kontrak met Abraham so besonders maak, is dat die Hemelse Vader die een party is, dat Hy dit geïnisieer het en ook nog dat dit ‘n bloedverbond of – kontrak is. Wat baie belangrik is, is dat die kontrak onvoorwaardelik is en dus onverbreekbaar.

 

Deur al die eeue heen en tot vandag toe, het mense bloedverbonde met mekaar gesluit. En nog nooit het die Geskiedenis een enkele geval verhaal waar so ‘n bloedverbond verbreek is nie. Meer nog – sulke bloedverbonde is selfs vir geslagte lank gehandhaaf. So het die reisigers Drake en Livingstone tientalle bloedverbonde met die swartes gesluit en dit is die rede waarom die swartes hulle nie gedood het nie. Die metode waarop ‘n bloedverbond gesluit word, is gewoonlik soos volg: Twee partye, hetsy vriende of vyande, kom bymekaar en besluit om bloedbroers te word. Na die ooreenkoms eis elkeen ‘n geskenk van die ander, ‘n snit word in albei se polse gemaak, die polse van die partye word op mekaar gevryf en daarna word van elkeen se bloed in drank (wyn of bier) gedrup en albei drink daarvan. Die belangrike is die bloedige karakter van die verbond.

 

So het dan ook die verbond wat die Hemelse Vader met Abraham en sy nageslag in al hulle geslagte gesluit het, ‘n bloedige karakter. Daarom is die besnydenis ‘n teken van die Verbond. Let daarop dat die Verbond geheel-en-al onverbreekbaar is, en wel om die volgende redes:

 

•  Jahweh is nie ‘n verbreker van Sy Woord nie.

•  Jahweh sal nie ‘n KONTRAK verbreek nie.

•  Dit is geheel en al ondenkbaar dat die Hemelse Vader ‘n BLOEDVERBOND OOIT SAL VERBREEK.

 

As daar dus ‘n Nuwe Verbond sou kom – en daar het wel – dan moes dit beter beloftes hê en dit moes ook wetlik gegrond wees. Van die oorspronklike partye en oorspronklike ooreenkoms mag niks weggeneem word nie. (Lees Gen 17 vir Ou Verbond) ‘n Toevoeging is nie ‘n VERBREKING nie maar wel ‘n verbetering van ‘n kontrak en dit is wat met die daarstelling van die Nuwe Verbond (Testament) gebeur het. ( Lees dit in Heb 8:6 – “ Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sovêr Hy ook Middelaar is van ‘n BETER VERBOND wat op BETER BELOFTES wetlik gegrond is .”)

 

Die “ Beter Verbond” sê dat die wyse waarop die Verbond gesluit is, beter is as dié van die Ou Verbond. In die Ou Verbond het die Hemelse Vader diere laat halveer en Hy het tussen hulle deur beweeg, Sodoende het die diere se bloed gevloei in die plek van Jahweh s'n. Die ander party, naamlik Abraham, se bloed het met die besnydenis gevloei.

 

In die Nuwe Verbond het daar ‘n baie besonderse gebeurtenis plaasgevind, naamlik dat die Messias se bloed gestort is in die proses van verbondsluiting. Wat belangrik is, is dat Hy volkome God en volkome mens was, dit wil sê toe Sy bloed gestort is, beide partye van die Verbond, naamlik God en mens, se bloed gevloei het. Daarom kan met reg gepraat word van ‘n “BETER VERBOND”.

 

Met die “BETER BELOFTES” sal ons die ou beloftes, dit wil sê, die ou kontrak se inhoud, met die nuwe kontrak (Verbond) se inhoud vergelyk.

In Gen 17:4: Wat my aangaan, kyk, My verbond is met jou, en jy sal die vader van ‘n menigte van nasies word.

Vers 5: Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies.

Vers 6: En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voorkom.

Vers 7: En Ek sal My verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond , om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou.

Vers 8: En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle n God wees.

Vers 9: Vêrder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet My verbond hou, jy en jou nageslag na jou, van geslag tot geslag.

Vers 10: Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag na jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word.

Let op na vers 7. Dit gaan om Abraham en sy nageslag tot in ewigheid en die inhoud van die kontrak is dat Jahweh ‘n God sal wees vir Abraham en sy nageslag. En die inhoud sal nooit verskraal kan word nie. As daar nou gekyk word na die Nuwe Verbond in Heb 8:6: “ Maar nou het Hy ‘n voortrefliker bediening verkry vir sovêr Hy ook Middelaar is van ‘n beter verbond wat op beter beloftes wettiglik gegrond is.”

Vers 7: Want as daardie eerste een onberispelik was, sou daar nie plek vir ‘n tweede gesoek word nie.

Vers 8: Want Hy berispe hulle en sê: Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond tot stand sal bring.

Vers 9: nie volgens die verbond wat Ek met hulle vaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand geneem het om hulle uit Egipteland uit te lei nie; want hulle het nie gebly by my verbond nie, en Ek het hulle veronagsaam, spreek die Here.

Vers 10: Want dit is die verbond wat Ek ná die dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.

 

Let daarop dat die huis van Israel en die huis van Juda die nageslag van Abraham is en in wese dié van Isak, soos belowe. Vers10 sê dat Jahweh vir hulle ‘n God sal wees en hulle sal vir hom ‘n volk wees. Die ou Verbond bly dus staan, maar daar kom wel ‘n toevoeging: Vers 10: “ Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle harte skrywe; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.” Die toevoeging is dus die wette wat in ons hart en verstand geskryf sal word. Daar is net een manier waarop dit kan plaasvind en dit is deur die werking van die Heilige Gees.

 

Joh. 14:26: “maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in My Naam sal stuur. Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

 

2 Kor 3:3: “omdat julle duidelik ‘n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God: nie op kliptafels nie, maar op die VLEES TAFELS VAN DIE HART.”

 

Die nuwe Verbond belowe dus die uitstorting van die Heilige Gees. Om dus te sê dat die Nuwe Verbond die Ou Verbond vervang of verbreek het, is ‘n gruwelike aantasting van ons Hemelse Vader en is ‘n skreiende Godslastering.

 

Die teken van die Nuwe Verbond sal dus ook ‘n bloedige karakter moet hê en dit is wat Matt 26:28 dus ook sê: “ Want dit is my bloed, die bloed van die Nuwe Testament (Nuwe Verbond), wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” (Dikwels vergeet ‘n mens dat Verbond, testament en kontrak presies dieselfde betekenis het.)

 

Daar is dus nie ‘n manier dat die doop in die plek van die besnydenis kan kom nie en boonop – waar in die ganse Woord van Jahweh staan dit geskryf?

Waar staan dit geskryf dat babatjies gedoop moet word?

Waar staan dit dat babatjies besprinkel moet word?

 

Dit is baie belangrik dat ons na ‘n basiese beginsel moet kyk. Die Hemelse Vader het vir ons sekere opdragte gegee en Hy het dit in ‘n taal gedoen wat saamgestel is uit woorde. Die woorde het dus ‘n sekere betekenis en volgens dié betekenis moet ons die opdragte verstaan. (Ek is nie besig om u intellek te onderskat nie – dit is net dat predikante die grondbeginsel van eksegese moet begryp.) Ter verduideliking die volgende opdrag:

Piet, gaan vryf die kat!” Piet staan op en gaan skop die kat. Toe aan Piet gevra word hoekom hy die kat skop, is sy antwoord: “Maar dis hoe ek dit verstaan het…” Normaalweg sou iemand sê dit is tyd dat Piet na ‘n inrigting verwys word, maar niemand sê dit as ‘n prediker dieselfde ding van die kansel af doen nie. Onthou dan, woorde het sekere betekenisse en ons moet ons daarby hou!!!

 

Die Griekse woord “Baptizo” wat vertaal word met “doop” beteken in wese “onderdompel” of “in geheel benat”. Die woord “doop” word in die normale gebruik ook so verstaan, behalwe wanneer dit vanaf die kansel gebruik word – dan beteken dit ‘n paar druppels water. Een leuen lei normaalweg tot ‘n volgende.

 

Die eerste leuen is: die doop het in die plek van die besnydenis gekom.

Die tweede leuen is: babatjies moet gedoop word, en nou moet die derde leuen noodwendig volg, naamlik doop is besprinkeling want jy kan nie babatjies van ‘n paar dae onderdompel nie. Hulle sal verdrink.

Openbaring 21 en 22 sê drie maal dat alle leuenaars hel toe gaan. Pasop!!!

OKKULTGEBONDENHEID

Wanneer die doop dus op on-Bybelse wyse en on-Bybelse voorwaardes en met on-Bybelse bedoelinge bedien word, sal dit beslis ‘n okkulte gebondenheid teweegbring.

 

Een van die interessante simptome van okkulte gebondenheid is ‘n christelike louheid. Dit het ook ‘n duratiewe slingergang van christelike opstaan en val.

Open 3:15: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!

 

Vers 16: Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal ek jou uit my mond spuug .”

 

Hierdie vers lyk so onlogies want die “lou” is tog al ‘n stap nader aan “warm” as die “koue”. Die ondervinding oor jare leer dat die lou kerkmens met sy besprenkeling as doop, selde tot die waarheid kom. Hy is doodtevrede; maar hy is ook dood in sy vrede. Die persoon wat as “warm” getipeer kan word, is natuurlik die een wat vervolging ervaar, want daar staan geskrywe: “En almal wat Godvrugtig wil lewe in Christus Jesus sal vervolg word” 2 Tim 3:12. So ‘n persoon ondervind ook ‘n groeiproses, alhoewel hy dit in ‘n beperkte mate ervaar tot hy die doop van die gelowige, dit wil sê die Bybelse doop, ontdek en ondervind het. Dan vind die werklike geestelike groei in ‘n mens se lewe plaas en die slingergang bestaan nie meer vir so ‘n persoon nie.

 

Die geestelik koue mens is ‘n wonderlike persoon om mee te werk. Bring vir hom die waarheid van die Woord en hy gryp dit met alles waaroor hy beskik. Sommige van hulle het al selfs predikante van hul huise weggeja, maar wanneer hulle die Waarheid hoor, word dit aangeneem.

 

Daar is ‘n verskriklike verskil tussen die Woord en die Calvinistiese leer. Die doop toon alreeds een van die menigte van verskilpunte aan, Dikwels het ek gewonder hoekom sekere mense nie Bybelse waarhede kan raaksien nie. Toe kom daar ‘n patroon na vore, naamlik die wat besprinkel is kon dit nie raak sien nie en het ook ‘n groter oor om die leuen te hoor en te glo. U sien, die Duiwel het ‘n ongelooflik effektiewe plan beraam en dit is om die mens so gou as moontlik na sy geboorte te gryp en dit op ‘n wyse te doen waarop niemand hom (die duiwel) verdink nie, naamlik deur die Kerk met haar kinderbesprenkeling. – As u die duiwel was, sou u nie ook so ‘n slim plan beraam het nie?

 

Weet u, die doop is so ‘n eenvoudige, logies beredeneerde leerstelling (dogma) in die Woord van Jahweh en daar is soveel voorbeelde van die voorwaarde, die wyse en die gevolge of resultate van die doop en soveel hooggeleerde predikante verstaan dit nie. Dit is die beste bewys van die geweldige okkultiese krag wat via die kinderbesprenkeling die mens se deel geword het.

 

Daar het ook ‘n ander patroon na vore gekom en dit is dié van mense wat wel die doop van die gelowige ondervind het, dan wel ‘n vermeerdering van Bybelse kennis ondervind het, maar dan aan die anderkant ‘n klomp on-Bybelse snert glo wat die besprinkeldes weer nie glo nie. Die Woord waarsku ons in dié geval ook in Matt 23:15: Wee julle skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julleself.” Weet u – hoe langer ek met die Woord besig is, hoe meer besef ek dat die pad nou en smal is en dat daar min is wat dit vind. Hierdie gedooptes is selfs die felste teenstanders van die Woord en beroem hulle in hul geestelike hoogmoed van talespreek en onderskeidingsvermoëns. In dié geval het dit nie met die doop te doen nie, maar wel met die doper. U sal merk dat met die Doop die Heilige Gees ontvang is. As iemand wat dus nie ‘n kind van ons Hemelse Vader is nie, jou doop, sal jy beslis nie die Heilige Gees ontvang nie, maar wel van die gees waarvan hy ‘n draer is. Dit is ‘n vorm van Transmigrasie, en dit sal behandel word by die bespreking van Calvyn se uitspraak dat enige persoon jou maar kan doop.

 

Die Satan het dus ‘n tweede effektiewe tegniek. Eerstens om die pasgebore kind so vinnig as moontlik in ‘n okkultgebonde situasie te kry. Dan, as die persoon besef dat hy wel gedoop moet word, sorg hy dat so ‘n persoon deur een van sy manne gedoop word om dan maar tog weer deur die Duiwel se gees beheer te word. En asof dit nie genoeg is nie het die duiwel ‘n derde skuif, naamlik dat die grote onaanvegbare Calvyn sê dat selfs ‘n persoon wat Jahweh minag jou kan doop sonder enige negatiewe gevolge. So groot is Calvyn in die Gereformeerde denke dat prof Alkmaar Swart met reg kon sê dat dit die god is met die klein letter “g”. Mense volg hom in so ‘n mate dat hulle hulself Calviniste noem. Pasop – Calvyn het nie vir u sondes gesterf nie!!!

 

Daar is in die meeste van die gevalle ‘n hewige reaksie in mense se lewens wanneer hulle blootgestel word aan die Doop van die Woord. Dit, terloops is die enkele leerstelling wat ek self ook met groot felheid teëgestaan het en ná die doop het daar ‘n ware lewe vir my oopgegaan. Daarvoor prys ek Sy Naam.

 

Die totaal onverstaanbare is dat ‘n persoon kan lieg, steel, moor, hoer en rumoer maar hy sal met genade behandel word in die kerke wat die kinderbesprinkeling verkondig. Maar die mens wat hom of haar laat “grootdoop” word summier uit die kerk geskors. Die vraag is: “Hoekom” Die antwoord is: die Doop van die gelowige is teen sy kerk se belydenis! Dominee, sê vir my – is leuens dan nie ‘n sonde nie? En diefstal? En moord?

En hoerery??!! In wie se diens is u as predikant as u so optree?

 

Die rol wat die kerk in die mense se lewens speel, is veel groter as dié van Jahweh of Jahshua of die Heilige Gees. Ek het letterlik duisende gesprekke gehad wat dit bewys. In die gesprekke word uit die Woord van God gelees wat Jahweh, Jahshua en die Heilige Gees vir die profete sê, maar dan stry die mens op grond van sy kerk se leerstellings of woordverkondiging. Die groot gros kerke is so, dat jy maar teen Jahweh kan sondig, maar net nie teen hulle leerstellings nie. Dit is die rede waarom jy uitgeskop word wanneer jy die Doop van die gelowige ondergaan. Dan is dit ook duidelik dat die persone wat die uitskopwerk doen; in diens van die kerk is en nie in diens van Jahweh nie.

 

Daar is een ding wat vir die duiwel baie , baie ongemaklik is, and en dit is die mens wat die Doop van ‘n gelowige ondergaan het en dit deur ‘n gelowige bedien is. Die Doop is ‘n afsnyding van die vernietigende sataniese magte oor die mens. Die duiwel bly egter ‘n hakskeenbyter (Gen 3:15). Dit wil sê, nadat hy die stryd verloor het, voer hy nog steeds sulke wanhoopspogings uit om jou te verontrief.

WAARVAN IS DIE DOOP `N TEKEN?

Uit al die gekwoteerde verse sien ons dat bekering, doop en afwassing van sondes deur die bloed van Jahshua en ‘n nuwe lewe ‘n integrale deel van mekaar vorm.

 

In Rom 6:3: Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is , in Sy dood gedoop is nie ?

Vers 4: “Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.”

 

Diegene wat Paulus bevraagteken of verwerp, kan hier maar na hom luister, want hy het geweet van ‘n kulturele gebruik wat nie algemeen aan ons bekend is nie. Die gebruik het plaasgevind voor ‘n huweliksbevestiging en sal later behandel word.

DOOP AS TEKEN VAN STERF EN OPSTAAN

“In Sy dood gedoop is”, beteken sekerlik dat die Doop ‘n teken is van saam met Jahshua sterf en saam met Hom opstaan. Jahshua het in Sy sterwe ‘n ou menslike liggaam en bestaan afgelê om met ‘n verheerlikte liggaam wat nie tyds-, afstands- of gewigsgebonde is nie, op te staan. Sy ou lewenswyse as die lam ter slagting gelei, verander na die Een wat sit aan die regterhand van Jahweh. Waar Hy in Sy ou lewe Sy hemelse heerlikheid ontneem was, het Hy dit na Sy dood weer teruggekry. In so ‘n nuwe lewe het Hy opgestaan om op geen manier aardsgebonde te wees nie. Ook het Jahshua die wonderlike vooruitsig om hier op aarde as die Koning van konings op die troon van Dawid te sit en oor Israel te regeer. (Luk 1:33: En Hy sal Koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan Sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.”

 

Met die Doop van ‘n mens is dit ook die aflegging van die ou mens in die ou lewe en die opstanding van ‘n nuwe mens in ‘n nuwe lewe met ‘n oneindige skopus van wonderlike dinge wat sy deel gaan word tot in die vêrste ewigheid. Ek is daarvan oortuig dat daar vir die kinders van Jahweh onuitspreeklik wonderlike dinge wag wat nie eens in die Woord aan ons genoem word nie, want ons sukkel om die dinge wat ons nou hier op aarde beleef te verstaan en te verklaar, wat nog van strate van gemengde glas en goud (Open 21:21) en andere!

OPENBARING VOLG DIE DOOP

As die mens wat soek na die waarheid, net eers by die Doop van die Woord en nie die doop van die kategismus nie, kan uitkom, dan wag daar ‘n nuwe lewe met nimmereindigende openbarings wat ‘n wonderlike geestelike groei tot gevolg het. Die oorwinning wat die Heilige Gees oor die bose gees behaal, is om duratief waarhede aan die kind van God te openbaar. Dan is daar ‘n voortdurende groei in so ‘n mens se lewe en is hy ook bewus van ‘n kommunikasie met die Hemelse Vader. Juis hierdie duratiewe openbaring moes die duiwel stop en dit het hy gedoen deur die kinderbesprenkeling as doop aan te bied. Daar sal eendag baie mense in die hel wees as gevolg van die kinderbesprenkeling.

 

In Matt 16 vra Jahshua vir Sy dissipels: “ Wie sê die mense is Ek?” en dan vra hy hulle: “En wie sê julle is Ek” en dan antwoord Petrus Hom: Vers 16: U is die Christus , die Seun van die Lewende God.” Vers 17: “Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar My Vader wat in die hemele is.” Vers 18: “En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek My gemeente bou. En die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”

 

Die Rooms-Katolieke sê dat Petrus die rots is. Wel, dan het ons baie probleme, want die rots Petrus is lankal nie meer by ons nie, en die poorte van die doderyk sal ons nou kon oorweldig! Die Gereformeerde denke sê dat die belydenis, naamlik dat Jahshua die Christus, die Seun van die lewende God is, die rots is. Wel, dan het ons nog meer probleme, want ons lees op verskeie plekke dat die bose geeste wat uitgedryf is deur Jahshua, ook dieselfde belydenis het. Is hulle dan nou ook rotse?

 

Ons moet nie in ons teologie belaglik wees nie!! Net enkele voorbeelde van wat bose geeste sê:

Markus 1:24 Ek ken U, wie U is: die Heilige van God”.

Markus 3:11 U is die Seun van God”.

Markus 5:7 “Jesus, Seun van die Allerhoogste God”.

Die vraag is dan: Wat is die rots?

Die antwoord is: Die OPENBARING wat deur die Hemelse Vader aan Petrus gegee is.

 

Openbarings in ‘n mens se lewe gee ‘n groei kragtigheid in sy gees wat al die helse kragte en magte nie kan stuit nie. En die Satan weet dit en vrees dit!

Let daarop, Jahshua sê vir Petrus: “Vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie.”

 

Onthou , Jahshua was ook vlees en bloed op daardie stadium. Selfs al Jahshua se wonderwerke het nie daardie intense sekerheid gegee soos toe die Hemelse Vader deur Sy Gees dit aan Petrus geopenbaar het nie. Openbarings maak die verskil in ‘n mens se lewe en die ryk openbaringservaring word ‘n mens se deel na die doop.

 

Ek het al mense hoor sê: “Ek sal my nie laat doop nie”. Wel die Fariseërs en die wetsgeleerdes het dit blykbaar ook gesê volgens Lukas 7:30: “Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur Hom te laat doop nie.”

 

AFWASSING AS TEKEN

Soos reeds vroeër genoem, is daar ‘n voorvereiste vir die doop en dit is om tot geloof te kom, oftewel bekering met belydenis van sondes. Bekering sê dat daar ‘n omkeer punt in die lewe kom. Om jou sondes te bely, beteken om te erken dat jy gesondig het. Jy erken dus dat wat jy gedoen het, verkeerd is. By die bekering en selfs by die voortdurende bekering, of beter gesê, by die korrigering van jou lewenswandel, word ons sondes deur Jahshua se bloed afgewas. Baie belangrik om raak te sien is dat die afwassing van sondes deur Sy bloed plaasvind en nie deur die water van die doop nie. Die eerste teken van die doop is dus afwassing.

 

Rom 6 praat van om “saam met Jesus in Sy dood gedoop te wees.” Dit wys op die afsterwe van die ou lewenswyse van sonde . Dit wil nie sê dat ons na die doop geen sonde meer sal doen nie, maar dat ons gewete in lyn kom met die werking van die Heilige Gees, Sodoende sal die sonde ons pla en raak dit ons intense begeerte om daarvan ontslae te raak. Terloops, daar is sondes waarvan ons, as gevolg van ons gevalle natuur, nie self ontslae kan raak nie. Dit was vir menige jong gelowige ‘n groot probleem. As ons self van al ons sondes ontslae kon raak, het Jahshua verniet gesterf! Daar is dus sondes waarvan net Hy ons kan verlos. “Verlos” beteken dat Jahshua dit van ons wegneem en nie dat ons dit laat staan nie.

 

Homoseksualisme is so ‘n sonde. Dit gebeur meestal as gevolg van verkeerde identifikasie en loop dan selfs oor na duiwelbesetenheid. So ‘n mens kan alleenlik deur die ingrype van Jahshua verlos word van sy sonde.

 

Dr Phil Meyer se vrou, mev. Mari Meyer, het in haar navorsing oor die Doop op die volgende afgekom. In die ou dae was dit ‘n kulturele gebruik voor ‘n bruilof dat die bruid en haar mense aan die een kant van ‘n rivier of spruit staan. Die vader van die bruid neem haar dan in die rivier in en onder dompel haar, en daarna stap sy deur die water na die bruidegom en sy familie. Die simboliek was dat sy haar ou lewe en familie afsterf om na ‘n nuwe lewe en familie oor te stap. Hierdie simboliek is so tiperend van die bekering en doop, waar ‘n mens maar sy ou familie en vriende afsterf om ‘n nuwe familie in Jahshua te vind. Ook is dit baie treffend dat ons Hemelse Vader die Doop, soos ook die bloedverbond, binne die gebruik van sy tyd geplaas het om dit sodoende helder verstaanbaar te maak.

VERSOEKING NÁ DOOP

Die dopeling moet egter daarop bedag wees dat nadat hy of sy gedoop is, die duiwel ‘n versoekingsaanslag sal loods. So was dit met Jahshua en so sal dit met ons ook wees.

 

Nadat die Satan se kop in ‘n groot mate vermorsel is het hy altyd so ‘n wanhopige hakskeenbyt-poging. (Gen 3:15)

 

Na die versoekingstyd sal daar egter ‘n voortdurende geestelike groei plaasvind en dit is die gevolg van openbaring, oftewel bekendmaking van die Woord deur die Heilige Gees.

 

Wees egter ook baie, baie versigtig vir geestelike hoogmoed deur te dink u weet nou van alles. Dit is dan wanneer die Hemelse Vader besluit dat jy niks vêrder hoef te weet nie, en dan vind stagnasie plaas! Dan is dit nie meer alles nie, maar al! Nog ‘n faktor wat die openbaring sal laat ophou, is om die soeke te staak. Onthou dat die Woord sê: “Soek en jy sal vind.”

 

 

 

Groete

Len Smoog

 

Posbus 2447

Lichtenburg

2740

 

Sel: 072 781 5972

 

Die boeke van ds. Ben Maree is ‘n moet vir elke soekende Bybelstudent en vir elke mens wat die waarheid sy deel wil maak. Dit handel oor die valshede wat die Christelike kerke verkondig. Die valshede word op grond van die Bybel en korrekte vertaling uitgewys, so ook die strawwe wat volg op die verwerping van die waarheid, verkeerd glo en doen. Hierdie boek beslaan 47 bladsye en is beskikbaar by:

 

 

HUTTEN-BUCHDIENST

Vuurklip Str. 541
Die Wilgers
Pretoria

Posbus 70770
Die Wilgers
0041

Tel: 012 807 0434
Fax: 012 807 0434